Die vaardigheidskrisis in Suid-Afrika

deur Johan Kruger

Die kies van ʼn loopbaan is vir elke jong mens ʼn unieke tyd en selfs ‘n spanningsvolle tyd.  Uiteindelik laat jy die skoolbanke agter en kan jy fokus op ʼn loopbaan wat werklik by jou pas.  Hierdie keuse is vir jou ʼn groot stap vorentoe en hierdie besluit is iets wat op die minste ʼn aantal jare jou dag tot dag se verrigtinge sal bepaal.

ʼn Belangrike aspek om van kennis te neem in die uitoefening van jou loopbaankeuse is die vaardigheidskrisis wat in Suid-Afrika heers.  Die vaardigheidskrisis hou vir ʼn jong mens wat op die punt staan om ʼn loopbaankeuse te maak, belangrike voordele in.  Dit is dikwels moeilik vir ʼn jong mens om die arbeidsmark te betree nadat hy of sy ʼn bepaalde kwalifikasie bekom het.  In Suid-Afrika is daar nog die toepassing van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging om mee rekening te hou.

Dit is belangrik om ʼn loopbaan te kies wat jou toegang gaan gee tot die arbeidsmark en sal verseker dat jy in aanvraag bly.  Dit is juis hierom dat dit belangrik is om kennis te neem van die tekort aan vaardighede wat in ʼn groot aantal sektore in Suid-Afrika bestaan.  Om jouself te bekwaam in ʼn loopbaan binne een van hierdie kategorieë van skaars vaardighede kan vir jou groot voordeel inhou wanneer jy die arbeidsmark betree.

Natuurlik besef ek dat die keuse van ʼn loopbaan nie alleen gaan om werk te kan kry nie, maar dit gaan ook oor vervulling van jouself binne ʼn loopbaan wat vir jou as individu gepas is.  Tog is dit belangrik om in die Suid-Afrikaanse konteks kennis te neem daarvan dat individue wat sekere vaardighede het eenvoudig makliker werk kry en vorder in hulle loopbaan weens hulle gesogte stel van vaardighede.  Indien jy dus jou weg kan oopsien om jouself binne een van hierdie velde van skaars en kritiese vaardighede te kan bekwaam, kan dit vir jou voordelig wees wanneer jy in die toekoms die arbeidsmark betree en jou eie potjie moet krap.

ʼn Aantal studies het reeds bevind dat die vaardigheidskrisis in Suid-Afrika ʼn beperking op ekonomiese groei plaas.  Deloite en Touché het byvoorbeeld in Junie 2007 ʼn verslag bekend gemaak wat aandui dat 81% van maatskappye sukkel om gepaste werkers te kry, terwyl 76% van maatskappye sê dat hulle groot probleme ondervind met die werwing van regstellende aksie kandidate.

Francois Calldo, ‘n navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut het gedurende 2008 ‘n verslag oor skaars vaardighede geskryf. Die onderstaande paragrawe is uittreksels uit sy verslag. Jongmense wat hulle in ‘n skaars en kritiese vaardigheid kwalifiseer het ‘n blink toekoms wat wag. Die onderstaande beroepsrigtings gee ‘n goeie aanduiding van velde waar daar tekorte is.

•           Verpleegkunde

Daar is ʼn tekort van meer as 30 000 geregistreerde verpleegkundiges in die openbare gesondheidsektor, met ʼn verdere tekort in die privaatsektor. Indien die planne deurgevoer word om openbare hospitale reg te ruk, gaan hierdie tekort net verder groei. Dit is, soos maatskaplike werk, dikwels ʼn ondankbare werk om te doen, maar dit bly uiters noodsaaklik.

•           Maatskaplike werk

Daar is volgens die regering ʼn tekort van 5 000 maatskaplike werkers in Suid-Afrika. Die huidige korps verteenwoordig slegs een maatskaplike werker vir sowat elke 4 000 mense in Suid-Afrika. Enigiemand wat Solidariteit Helpende Hand se werk volg en ondersteun, sal weet watter maatskaplike nood daar in Suid-Afrika is. Matrikulante wat direk ʼn verskil aan hulpbehoewende mense se lewens wil maak, kan gerus oorweeg om hulself in hierdie gebied te bekwaam.

•           Dokters

Daar is ʼn groot tekort aan Dokters in Suid-Afrika.  Die Cape Times het in Desember 2006 reeds berig dat driekwart van algemene praktisyns in Suid-Afrika in die privaatsektor werksaam is en slegs ongeveer 25% van die bevolking bedien.  Dieselfde dagblad berig dat die land se plattelandse gesondheid sorgstelsel toekomstig dalk inmekaar kan stort.

•           Aptekerswese

In hierdie rigting, wat ook deel is van die algemene menslikewelsynsektor, is daar spesifiek ʼn tekort aan aptekersassistente, en volgens die regering word meer as tienduisend persone in hierdie rigting benodig. Die kwalifikasie word deels teoreties en deels prakties aangebied. (Daar moet genoem word dat die aptekersassistentkwalifikasie tans veranderinge ondergaan.)

•           Rekeningkunde

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters het in 2008 die tekort aan rekeningkundiges op 22 000 beraam (5 300 hiervan spesifiek geoktrooieerde rekenmeesters). Meer onlangse navorsing deur dieselfde instituut het getoon dat ʼn geoktrooieerderekenmeesterskwalifikasie die mees gesogte kwalifikasie in koerantadvertensies vir poste is. ʼn Volle 19% van advertensies in ʼn daaglikse besigheidskoerant se weeklikse bylaag vir posadvertensies het spesifiek ʼn geoktrooieerderekenmeesterskwalifikasie as ʼn vereiste vir indiensname.

•           Finansiële professionele persone

KPMG het in 2007 beraam dat daar ʼn tekort van ongeveer 500 gekwalifiseerde (sertifikaat in die teorie van rekenmeesterskap {CTA} gegradueerdes beskikbaar sal wees vir werwing deur Suid Afrikaanse belasting en Ouditeursfirmas.

•           Bestuurders

Die Human Sciences Research Council het bevind dat daar ʼn tekort van tussen 350 000 en 500 000 gekwalifiseerde mense wat bestuurs- en tegniese posisies moet vul, bestaan.

•           Inligtingstegnologie

Hoewel die inligtingstegnologiesektor gedurende 2009 ook deur die ekonomiese afswaai geraak is, het die sektor steeds baie groeipotensiaal in Suid-Afrika. Die aansluiting van meer ondersese internasionale internetkabels voorspel ook toekomstige deelname aan die internet deur ʼn baie groter deel van die Suid-Afrikaanse bevolking. Namate daar groter deelname plaasvind, sal die vraag na personeel om die groter kliëntebasis te ondersteun ook groei. Volgens SETA-navorsing is meer as die helfte van vakante poste in hierdie sektor te wyte aan firmas wat mekaar se personeel afrokkel met aanbiedinge van hoër salarisse.

•           Onderwys

Onderwysers, veral in wiskunde en wetenskap, is skaars in Suid-Afrika. Volgens die regering se lys van skaars vaardighede is daar ʼn tekort aan sowat 40 000 onderwysers van verskillende soorte, insluitend dosente by VOO-kolleges. Vir enige land is onderwys ʼn rigting wat altyd belangrik sal wees, aangesien die opleiding van die jeug die enigste manier is om die vooruitgang van die land te verseker.

•           Ingenieurswese en Tegnici

Die jongste opname deur Manpower onder 750 werkgewers in Suid-Afrika toon dat die vakante poste wat die moeilikste is om te vul, dié is wat ingenieursvaardighede vereis. Dit is nie verbasend nie, aangesien Suid-Afrika se aantal ingenieurs per capita ordegroottes laer is as die ooreenstemmende verhouding in lande soos Brasilië en China. Die Suid – Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs het in 2006 al aangedui dat 79 van Suid Afrika se 231 plaaslike munisipaliteite nie ʼn enkele Ingenieur, Tegnoloog of Tegnikus in diens het nie.

Volgens die Instituut vir Siviele Ingenieurs het Suid – Afrika ongeveer slegs 1 Ingenieur vir elke 3200 mense in vergelyking met byvoorbeeld 1 Ingenieur vir elke 130 mense in China, 1 Ingenieur vir tussen 250 en 300 mense in Europa en 1 Ingenieur vir elke 450 mense in Australië. Suid – Afrika produseer tans gemiddeld 1400 gegradueerde Ingenieurs per jaar.  Hierdie syfer sal uitgebrei moet word na 2400 om die huidige tekort aan te spreek.

•           Vakmanne

Solidariteit het verslag gedoen dat Suid-Afrika slegs 10% van vakmanne oor het wat dit 20 jaar gelede gehad het. Terselfdertyd word geskat dat die land ongeveer ʼn 40% tekort aan vakmanne het.  Dit kan verstaan word as ‘n mens kyk dat in 2006 slegs 3400 leerlinge in opleiding in die metaal industrie was, in vergelyking met ongeveer 13000 in 1982.  Die grootste oorsaak hiervan is die afskaffing van die leerlingskap stelsel wat vervang is deur Seta leerlingskappe.  Die Ingenieurs maatskappy Krineker-LTA moet selfs sweisers van Maleisië, Ierland en Indië invoer, terwyl Sasol ongeveer 1300 vakmanne en sweisers uit Thailand moes invoer vir onderhoudswerk by die Secunda sintetiese brandstofaanleg.

•           Tegniese vaardighede

Soos Solidariteit self besef het, is daar ʼn groot behoefte aan tegniesgekwalifiseerde mense in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Selfs met gedurige uitbreiding kry Solidariteit se eie tegniese opleidingskollege, Sol-Tech, jaar ná jaar meer aansoeke as wat die infrastruktuur kan hanteer. Volgens Manpower se opname is poste wat tegniese vaardighede verg naas ingenieursvaardighede die moeilikste om te vul in Suid-Afrika. Matrikulante moenie dink dat vakmanne soos passers en draaiers, ketelmakers en elektrisiëns laeklas werk doen nie. Hierdie beroepe is hoogs geskoold en persone wat dit beoefen, verdien baie goeie salarisse.

•           Argitektuur en Tekenaars

Die Suid Afrikaanse Instituut vir Argitekte het in 2008 reeds gesê dat 80% van die land se argitektuur praktyke tekorte van tot 40% ondervind. Volgens die Suid Afrikaanse Instituut vir Tekenaars, lewer Suid-Afrika tans ongeveer ʼn 1000 tekenaars per jaar terwyl die aanvraag in die orde van 5000 per jaar is.

•           Navorsingskapasiteit

Gedurende Augustus 2007 het Professor van Jaarsveld van die National Research Foundation tydens ʼn toespraak by die Johannesburgse pers klub aangedui dat Suid-Afrika ongeveer 6000 wetenskap en tegnologie PhD gegradueerdes per jaar moet oplewer om te verseker dat die land kompeterend bly in die globale kennis ekonomie.  Suid-Afrika lewer tans ongeveer een vyfde daarvan op.

•           Forensiese spesialiste

Gedurende November 2006 het die Cape Times berig dat daar ʼn tekort aan forensiese spesialiste in die land bestaan.  Privaat Forensiese Konsultant, David Klatzow, is aangehaal dat hy gesê het dat kwaliteit van personeel swak was met chemiese laboratoriums wat slegs deur ongeveer 10% van hulle maandelikse sake lading kom.  Nasionale forensiese laboratoriums het op daardie tydstip ongeveer ʼn agterstand van 400 sake per maand gehad.

 •           Die gasvryheid sektor

ʼn Vaardigheidsoudit deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme het in 2008 bevind dat die industrie tot en met 2011 ongeveer 24 000 chefs en kokke, 23500 kelners en kelnerinne, 15 000 skoonmakers, ongeveer 8000 kassiere en 8000 bestuurspersoneel sal benodig.

•           Lugvaart

Suid-Afrika se lugmag het ʼn tekort aan vaardighede.  ʼn SABC nuusverslag het in Desember 2006 gewys dat ongeveer 70 Vlieëniers en meer as 500 tegniese personeel by die lugmag bedank het tussen Oktober 2004 en Oktober 2006.  Suid – Afrika staan vlieëniers aan buitelandse lugrederye af teen ʼn ongesonde koers.   Tony Laubser, Hoof van die Airline Pilots Association of South  Africa het in November 2007 gesê dat ten minste 60 Vlieëniers die land sou verlaat tussen November 2007 en Februarie 2008.

Hierdie voorbeelde van studie- en beroepsrigtings dek nie al die velde waar Suid-Afrika vaardigheidstekorte tekorte ervaar nie, maar dit is waar sommige van die mees kritieke tekorte is en in die nabye toekoms sal bly.

Deur die rigtings van skaars en kritiese vaardighede in ag te neem met die maak van jou loopbaankeuse kan ‘n jong Suid-Afrikaner self ‘n toekoms bou. Verder kan jy ook daarmee help om ʼn toekoms vir die res van die land se mense te verseker, of dit nou is deur te sorg vir goeie infrastruktuur, goeie gesondheidsorg, of deur enige ander noodsaaklike diens te lewer.

Comments are closed.