WILDBEWAARDER

WILDBEWAARDER

WAT BEHELS DIE BEROEP?

Die rol van bewaring is om natuurlike hulpbronne tot die voordeel van die samelewing te bestuur. Die hoofdoelstelling van die wildbewaarder is om natuurlike hulpbronne te bewaar en te bestuur.

Wildbewaarders voer ’n verskeidenheid take en funksies uit, afhangend van die behoeftes van die area waarin hulle hulself bevind. Hul rolle kan die volgende insluit: die vang van wild vir hervestiging, die uitdunning van oorbevolkte wildgetalle, navorsing oor die beweging van wild en omgewingsimpakstudies. Een van hul primêre funksies is wetstoepassing en om te verseker dat die park- of wildernisgebied tot voordeel van almal bewaar word. Hulle kan ook ondersteunend aan navorsingsprojekte werk wat deur wetenskaplikes ontwerp is. Hulle is dikwels ook vir toeriste verantwoordelik, byvoorbeeld deur besoekers op begeleide toere te neem of omgewings-opvoedingsprogramme aan te bied.

Sommige wildbewaarders word kenners op een of meer spesifieke gebiede van bewaring en kan werk doen wat uitvoerige beplanning, oplees, veldwerk en data-analise vereis. Ander kan meer by die ontwikkeling van publisiteitsmateriaal en die interaksie met die publiek en die media betrokke raak. Afhangende van die tipe aanstelling wat hulle het, kan ’n natuurbewaarder ook vir finansiële administrasie, bestuur van personeel en arbeidsverhoudinge verantwoordelik wees.

OPLEIDINGSMOONTLIKHEDE/-OPSIES

Spesiale BSc of BTech grade in Ekologie of Natuurbewaring word by die meeste universiteite aangebied.

Diploma: N.Dip. in Omgewingsgesondheid of Natuurbewaring word by sommige universiteite van tegnologie aangebied.
OPLEIDINGSINSTANSIES

Kontak jou naaste universiteit of opleidingsinstansie.

 

MINIMUM VEREISTES

Nasionale Senior Sertifikaat wat aan die vereistes vir ‘n graadkursus voldoen.

Nasionale Senior Sertifikaat wat aan die vereistes vir ‘n diplomakursus voldoen.

Elke instansie sal sy eie minimum toelatingsvereistes hê.

 

 

 

’n Natuurbewaarder of wildbewaarder moet:
- ’n passievolle belangstelling in bewaring en natuurlike hulpbronne hê;
- lief vir die buitelewe en diere wees;
- goeie gesondheid en fisiese fiksheid geniet;
- prakties en self-onderhoudend wees;
- verantwoordelik wees;
- goed met mense kan kommunikeer;
- ’n vuurwapen kan gebruik en akkuraat kan skiet;
- toegewyd aan die werk wees; en
- in staat wees om ten minste twee tale vlot te praat.

 

VAKKE WAT OP SKOOL GENEEM KAN WORD

Verpligte vakke: Wiskunde en Fisiese Wetenskap.

Geografie en Lewenswetenskappe kan tot jou voordeel strek.

 

WERKSGELEENTHEDE
- Nasionale Parkeraad
- Private wildplase
- Private wildreservate
- Regeringsdepartemente
- Provinsiale bewaringsorganisasies
- Groot mynbou-, chemiese- en industriële maatskappye

- Eie onderneming: ’n Natuurbewaarder of wildbewaarder kan as konsultant in die privaat sektor werk, deur omgewingsimpakstudies uit te voer.

 

 www.gostudy.co.za

Comments are closed.